Vir skrywers en digters — Hoe publiseer ek my werk op Hasepad?

Gerhard Venter

 

As jy ‘n boek, ‘n kinderboek of ‘n kortverhaal geskryf het, en jy wil jou werk graag op Hasepad publiseer: lees verder — jy’s op die regte plek. Ek gaan eers vir jou ‘n baie kort resep gee, dan verdere besonderhede (ek het ‘n onderwyser gehad wat aangedring het op nadere besonderhede).

 

Hier’s die kort resep:

  1. Hê jou werk gereed in MS Word formaat, uitgelê en geproeflees. Kinderboeke en boeke met foto’s doen partykeer beter as ‘n PDF.
  2. Maak seker jou voorblad lyk professioneel. Daar’s baie raad daaroor op Google. Hoë resolusie asseblief.
  3. Ons soek ‘n skrywersfoto soortgelyk aan myne hierbo. Gelukkig is jy baie mooier. Hoë resolusie asseblief.
  4. Skryf asseblief ‘n kort biografie — ons noem dit ‘n profiel — oor jouself. Twee tot drie paragrawe. Maak dit interessant.
  5. Skryf ‘n kort beskrywing van jou verhaal, boek, of digbundel. Twee tot drie paragrawe. NIE ‘n sinopsis nie. Maak dit interessant!
  6. Epos al die bogenoemde items na Henning van Aswegen by Henning@Hasepad.com.

 

Dit is, in ‘n neutedop, wat jy moet doen om gepubliseer te word.

Die koste uit jou sak uit — niks. Amazon trek hulle druk- en verspreidingskoste af voordat hulle jou tantiéme uitbetaal. Hasepad het ‘n bankrekening in die VSA wat dit moontlik maak om jou tantième daar te ontvang. Ons hou 20% van die tantième terug om ons onkostes te dek, en laat die res akkumuleer totdat daar R500.00 of meer is, en betaal dit dan aan die skrywers uit. Hou in gedagte dat Amazon.com meer as 200 miljoen besoekers per dag kry. Daarom moet mens jou boeke relatief laag prys — dis beter om ‘n klomp klein bedraggies te kry as om niks te verkoop nie. Vertrou my, ek het probeer. En onthou, jy verdien dollars.

As jy enige vrae het, nooi ek jou hartlik uit om vir my (gerhard@hasepad.com) of Henning van Aswegen (henning@hasepad.com) te epos.

Lekker skryf!