
Uiteindelike verlossing bevry haar van die seer in haar lyf en siel.
’n Dogtertjie se intieme omgewing word uitmekaargeskeur deur die dood. ’n Monster neem sy intrek in die stil, donker nag. ’n Verhaal vol pyn, maar ook hoop.
Volwasse leesstof.
Resensie: Gerhard Venter
Baie aksieverhale wys jou in detail hoe mense veg, hoe treine van brûe afstoom, die ysige water in, hoe mense se valskerms nie oopgaan nie.
Sielkundige rillers wys jou hoe mal mense met vleisbyle hulle psigoses uitwoed – psigoses waaraan hulle lank reeds ly. Of hoe hulle fyn speletjies met hulle slagoffers speel, omdat hulle dit jare lank al doen.
Bitter min skrywers kan jou in slo-mo wys hoe ‘n kind se persoonlikheid haarself uitblus omdat die werklikheid te aaklig is om te hanteer. En wat dit is wat daardie persoonlikheid vervang. Dis die ekwivalent van ‘n trein wat trok vir trok binne ‘n kind se psige ontspoor.
Bets kry dit in hierdie novelle reg.
Dis op die sielkundige vlak.
Op die teologiese vlak sien ons hoe ‘n kind se geloof in ‘n boks in die grond begrawe word omdat daar niemand is wat Jesus se hande na haar toe uitsteek in die tyd van haar grootste nood nie. Dit was wragtig nie Suzane (die hoofkaraktertjie) se skuld nie. En tog vra sy keer op keer: Waar is Jesus? Sy’s nie die enigste een nie. ‘n Psalmdigter het twee-en-‘n-half duisend jaar gelede gevra: “Waar sal my hulp vandaan kom?” Hierdie storie gaan nou al ‘n rukkie aan – mense wat op die Here se hulp wag en begin voel dat dit nooit gaan kom nie.
Bets Koen laat ons in hierdie novelle saam met die kind wonder: “Wanneer, Here?”
Dis nie ‘n ‘lekkerlees verhaal’ nie – dit is ‘n móét-lees verhaal. Ek het nie gesug en geglimlag toe ek my Kindle neersit nie – ek wou die ding teen die muur stukkend gooi.
As dít is wat die skrywer wou bereik – en ek weet dit was – kan sy wel terugsit en glimlag. Maar ek wed jou dis ‘n half hartseer glimlag. Jy skep nie ‘n Suzane en kom ongedeerd daarvan af nie.
18 Augustus 2020.
RESENSIE: Nico Schamrel
Sy kyk op, deur die venster na die grysblou berge teen die reëngrys lug waar hulp glo vandaan sal kom. Sy staar stip en wag vir iemand om haar te kom help.
Na die lees van die eerste bladsy uit Susanini, is ʼn mens dadelik bewus van ʼn dogtertjie, Suzane, se hartseer. Tog bly die leser onbewus van wat in die verhaal gaan volg.
Deur ʼn eenvoudige sin, soos – Dood in ’n bruin kis. En niemand vra vrae nie – skep die skrywer reeds die gevoel van ʼn leegheid binne ʼn dogtertjie se gemoed. Dit is ook duidelik dat sy in haar gedagtes worstel met iets wat haar vir altyd sal bybly.
Die belangrikste vraag in hierdie kindjie se gedagtes, is ook die vraag wat deurgaans in die leser se kop vassteek: Is daar hulp en genesing?
Hierdie allegorie is buite die norm van verhale oor kindermishandeling en neem die leser eerder na die sielkundige aspek daarvan en die wanordelikheid van ʼn kind se psige. Die onnatuurlike gedrag van mense skep ʼn verwarring in emosies by die hoofkarakter.
Wat ook beïndruk in hierdie besonderse verhaal, is die skrywer se vernuftige gebruik van denkbeelde om gevoelige tonele minder kriewelrig in die leser se geheue te plaas en eerder die ware emosies te omskep in psigologiese redenering deur die slagoffer. Onbewustelik word ʼn mens meelewend en verdiep die verhouding tussen die karakter en die leser.
Daar is goeie harmonie tussen emosies en die werklikheid, asook ʼn goeie balans tussen geslepe kruheid en noulettendheid by volwasse karakters.
Al wat sy het, is haar lappop, maar daar is tog troos – die ruim verbeelding van ʼn kind is onbeperk. Die skrywer maak deeglik gebruik daarvan en sorg sodoende vir ʼn einde wat die leser glad nie verwag nie. Suzane vind verpleging op eie onskuldige manier, maar nie sonder nuwe wonde nie. Susanini is ʼn eersteklas verhaal wat jou ontroer en jou verwagtende oortref. Dit laat jou weereens besef hou noulettend mens soms is ten opsigte van ʼn kind se verandering in gedrag en optredes.
Dit is nooit maklik om so ʼn verhaal te skryf sonder om iets daarvan oor te hou nie – dieselfde geld vir die leser: jy hou ʼn flentertjie gedagtenis agter om iewers iemand mee te troos. Die skrywer slaag skitterend daarin om ʼn betrokkenheid te skep waarin jy voel dat jy graag self wil troos en ʼn hand uitreik.