
Van struggle en suffer kan jy die Griessels niks vertel nie. Myn-blaster Frik blaas alles op; as dit nie die three tone stasiewa is nie, is dit die brug op die N2.
Die tweeling sukkel met die eenmaaltafel, Fanny is vreemd omdat sy van die begraafplaas kom en Kees kom van onder die pienk lakens, die dat hy skeeftrek. Neef Fanie Flopgekom dra ook by as car guard. Al wat hy nog kort is ’n cherry, maar hy het darem ’n video. Doorsie het ’n geheime tatoe waarmee sy almal op hul tone hou en haar lewensmaat, Letitia, ken van WWE stoei. Ma-Popsie tel die sterre en stop onderbroeke, al het sy ’n slap nek. Daar is net een hond soos Blackie, die enigste swarte in Poespasvlei. Tillie wil uit die stof opstaan. Sy kort net ’n naaimasjien en ’n showstopper. Haar baai-en-sel verkoop die beste smoke chickens. Daar is ook die erns; die baksteen wat binne jou lê, gebreekte mense met hulle eie pyn. Hoe kom jy weer bo-uit as jy net stof om jou sien?
Wat hou die toekoms in, wonder Tillie weer. Seker maar boggherol.
Ag wat, sy gaan ophou om haarself so te bekommer. Letitia is reg. Sy het baie om voor dankbaar te wees.
Maar daar is ’n ding aan die broei, sy voel dit aan; dinge lyk sleg by die fabriek. Dit is nie al nie, sy weet daar is meer aan hierdie gevoel binne haar.
Hoe staan jy op? Hoe op hierdie Godgegewe aarde kom jy uit die stof, die slyk wat jou insluk, die goeters wat jou vashou? Hoe moet jy bly baklei wanneer jy voel jy het die geveg lankal verloor?
Die stofwolk is dik. As die wind net kan gaan lê en sy weer die son kan sien skyn … Dan sal daar weer ’n bietjie hoop wees.
Sandtrappers, dit is wat hulle genoem word. Mense wat gering geskat word. Gomtorre. Eenvoudige, onopgevoede, agteraf, onbeskaafd. Asof hulle nie vlees en bloed is nie.
Kommentaar:
Werner Lourens: Stunning
Rene Scholtz: Briljant