Nico Schamrel

Gebore en getoë op Uitenhage. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth en na vele omwentelings in sy lewe, keer hy terug na sy geboortedorp.
“Baie dinge uit my kinderjare en plekke waar ek gewoon het – soos Hogsback – het van my kortverhale beïnvloed. Daar is nie net hartseer in ‘n mens se lewe nie – jy moet die juwele soek en dit gebruik.”
Van sy kortverhale verskyn in verskeie keurbundels. Nico ontvang ook ‘n benoeming van Croyez Literêre Toekennings vir sy kortverhaal By Mooirivier se brug wat in sy debut bundel, Engela, opgeneem is. In 2020 ontvang hy ‘n benoeming – Chris Barnard Prys – vir sy kortverhaal, Kaggen. Dit is opgeneem in sy kortverhaalbundel, Prente in my kop.
RESENSIE – Engela: “In bykans paragraaf na paragraaf staan jy verstom oor die skrywer se ryk woordeskat; sy spel met die taal; die maklike wisseling tussen die letterlike en die figuurlike. Verhale wat so ingekleur is, is net ‘n genot om te lees!”
Prof. dr. GJ van Jaarsveld (em.) D.Lit. (UV), MA (RAU), THOD (NKP)

STEPPIE LYK SOOS HEUNINGWAS – gebaseer op ‘n ware verhaal en gebeure, het ‘n paar jaar geneem om te skryf. Die verhaal het die skrywer diep geraak omdat soveel van die karakters gebaseer is op ware mense, bekend is aan hom.

Hy beywer hom ter bevordering van die Afrikaanse verhaalkuns as stigterslid van PENdit.za en is ‘n kampvegter vir die behoud van Afrikaans.
“God gee jou talente as geskenk en daarmee moet jy woeker. Afrikaans is ‘n wonderlike godgegewe taal. Ek skryf omdat dit my passie is, die liefde vir my taal en om saam met ander my moedertaal aan die lewe te hou.”
Hy is betrokke by verskeie projekte, maar sy liefde vir skryf is onblusbaar. Nico is ook die skrywer van die enigste volledige handleiding vir opleiding in die gastebedryf en het so pas ‘n handleiding vir selfpublikasie voltooi.
Nico is ook ‘n grafiesekustenaar wat onder die etiket – NS Kreatiewe Ontwerp – omslae ontwerp vir boeke, asook materiaal vir bemarking. Besoek gerus sy webwerf: www.nicoschamrel.wordpress.com

Engela

Engela

Die aanhaling kom uit een van Nico se kortverhale in hierdie bundel. Hy kon nie sy eie skryfwerk beter beskryf het nie! Hy het die gawe om uit ‘n eenvoudige storielyn fantasie op te tower. Met fyn nuanses lok hy die leser om dieper te lees en emosies te ervaar as wat soms aardse, eenvoudige karakters sou suggereer en wat aan elkeen van sy stories ‘n diep menslike karakter gee. Hy stel ons voor aan karakters wat groter is en meer beleef as die hier en nou. Hy vleg temas uit folklore, legendes en sprokies en dikwels uit die Bybel vernuftig in die konstruksie van sy verhale in en bring dit tot diepsinnige en verrassende ontknopings. Die eg menslike stories grens dikwels aan die bonatuurlike en feëtjieverhale met ‘n ryk simboliek. Hy trek jou tot binne-in die stories met haarfyn beskrywings van die situasies en atmosfeer.Nico kleur elke verhaal in met verrassende, glashelder, visuele tonele. Hy put ryklik uit die natuur en jy kan dit as’t ware sintuiglik ervaar deur sy fyn en raak beskrywings. Hy munt die skat van die Afrikaanse taal in ongewone, funksionele beskrywings; in die gebruik van idiome; metafore en vergelykings, en in ongewone woordkeuses. In bykans paragraaf na paragraaf staan jy verstom oor die skrywer se ryk woordeskat; sy spel met die taal; die maklike wisseling tussen die letterlike en die figuurlike. Verhale wat so ingekleur is, is net ‘n genot om te lees!Lesers moet nie verwag om die tipiese tydskrifkortverhale in die bundel te lees nie. Sy verhale is in n klas van hulle eie; vir die fynproewer tot oneindige genot; vir voornemende skrywers ‘n literêre les. Vir ons ander? Lees self!Dankie Nico, vir jou kop vol stories; vir hierdie wonder-werk en dankie dat jy dit vir ons so mooi inkleur.Baie geluk met ’n pragtige bundel!Resensie deur Prof. dr. Gert van Jaarsveld (em.) D.Lit. (UV), MA (RAU), THOD (NKP). Boekomslag foto / Front cover photo - award winning photographer David Heger (Czech Republic): http://www.photoheger.com/

More info →
Steppie lyk soos heuningwas

Steppie lyk soos heuningwas

Author:
Genre: Roman

Die groot vloed was God se straf. Sy vlug weg van die skim op ’n swart perd. Saam met haar is die ding waaroor kadawer-asem grynslag – ’n satanpes. Al wat Steppie voor vra is vergifnis en om weer op haar heuwel te sit. Dalk aanskou sy ’n wonderwerk? Sal dít haar finale oorwinning wees of moet sy verder boet vir haar sonde?Daar is orals wonderwerke – jy moet net dieper kyk.

Kommentaar:

Gerhardus Lombard: Uitstekend, Nico Schamrel

Louise van Gass: Ongelooflike boek wat tot binne jou siel ruk. 'n Ware treffer boek.

More info →
Buy from Amazon Kindle
Buy from Amazon
Die Griesels van Poespasvlei

Die Griesels van Poespasvlei

Die tweeling sukkel met die eenmaaltafel, Fanny is vreemd omdat sy van die begraafplaas kom en Kees kom van onder die pienk lakens, die dat hy skeeftrek. Neef Fanie Flopgekom dra ook by as car guard. Al wat hy nog kort is ’n cherry, maar hy het darem ’n video. Doorsie het ’n geheime tatoe waarmee sy almal op hul tone hou en haar lewensmaat, Letitia, ken van WWE stoei. Ma-Popsie tel die sterre en stop onderbroeke, al het sy ’n slap nek. Daar is net een hond soos Blackie, die enigste swarte in Poespasvlei. Tillie wil uit die stof opstaan. Sy kort net ’n naaimasjien en ’n showstopper. Haar baai-en-sel verkoop die beste smoke chickens. Daar is ook die erns; die baksteen wat binne jou lê, gebreekte mense met hulle eie pyn. Hoe kom jy weer bo-uit as jy net stof om jou sien?

More info →
Buy from Amazon Kindle
Buy from Amazon
Rooi papawers

Rooi papawers

Ses raaiselagtige moorde wat deur Erwee, Gert en Karla opgelos moet word, terwyl dit die leser boei met interessante en onvoorspelbare wendings.

ʼn Opdringerige verpleër en ʼn verdagte nag-ouditeur by ʼn hotel wek agterdog.

More info →
Buy from Amazon Kindle
Buy from Amazon
Prente in my kop

Prente in my kop

Dit wek emosies, misterie en soms ʼn absurditeit wat jou gedagtes stimuleer, beelde skep en herinneringe opwek.
Die skrywer verwerk hierdie indrukke en omskryf dit in verhale waarin alledaagse gebeure ʼn wedergeboorte ervaar.
Herinneringe uit die skrywer se kinderdae op sy tuisdorp word veral besonder beskryf in sy verhale – Witter as sneeu en Ma kan toor.
Elke kortverhaal word met ʼn foto geplaas sodat die leser die verhaal daarmee kan vereenselwig.

More info →
Buy from Amazon Kindle
Self-publikasie BEMARKING

Self-publikasie BEMARKING

Die skrywer deel sy ondervinding en kennis met die leser en neem jou op die pad na 'n suksesvolle publikasie.
Dit dek ook jou outeursreg volgens die Suid-Afrikaanse Wet en maak jou bewus van slaggate. Indien jy meer wil weet oor dienslewering, omslagontwerp en tipografie, is hierdie handleiding uiters handig en insiggewend. Daar word veral op bemarking gefokus en ʼn lys van diensverskaffers verskyn agter in die handleiding. Daar is ook goeie raad om die beste uitgewer te kies vir self-publikasie.
Met 'n tikkie humor word die pad na sukses soveel korter!

More info →
Buy from Amazon Kindle